Meer seks, skandale as rugby

“Ek hoor jy het baie lood in jou potlood,” sê die rasieleidster vir die supersexy vleuel.

“Dit hang af wat jy wil hê ek moet teken,” antwoord hy suggestief terug.

Dit is ’n toneel uit die splinternuwe reeks Getroud met rugby, wat van 7 April om 20:00 op kykNET te sien is.

Die bekendstelling van die reeks van 26 episodes het Donderdagaand by Die Venue in Melrose Arch plaasgevind en orals was met groot name te sien wat in dié nuwe reeks vir moles gaan sorg.

Moenie verwag om ’n rugbywedstryd in die reeks te sien nie. In hierdie program gaan kykers skaars die veld gewaar. Miskien sal jy sien hoe ’n speler oefen of van die veld af hardloop.

Getroud met rugby fokus meer op die skandale en sekskapades van vier rugbypaartjies. Die reeks is die dramaturg Deon Opperman en vroulief Hanli se breinkind en handel nie soseer oor die wedstryd nie, maar eerder oor wat agter die skerms in ’n rugbyspeler se lewe gebeur.

“Basies is die manne getroud met rugby. Die vroue is getroud met die manne wat rugby speel en die derde party is rugby,” sê Deon.

Hanna Grobler speel die rol van rasieleier Kiki. Sy is ook bekend as Casper de Vries se assistent in Doen met ’n miljoen op kykNET.

Anel Alexander (7de Laan) is Julia wat vir die spelers fisioterapie gee. Sy verklap dat sy raad by haar fisioterapeut-suster, Marilet Klopper, gekry het. Altus Theart (Bakgat) speel die vleuel wat die rasieleidsters deurdraf. “Ek speel Fafa, wat nie ’n tekort aan vrouegeselskap het nie...”