Askies, hier kom HannaArticle by Melany Wooberg on Thursday, the 6th of August, 2009
Aanhangers van Casper de Vries sal vir Hanna Grobler onthou as sy verspotte assistent op die kykNET-program Doen met ’n miljoen. Dié wulpse aktrise is nou te sien as die verleidelike rasieleidster, Kiki, in die reeks Getroud met rugby. “Ons is ook nou besig om die tweede reeks van Getroud met rugby te skiet en ek is ook te sien in die reeks Askies saam met Hanli Rolfes-Opperman,” sê sy. Hanna is geen vreemdeling op die kassie nie. Sy het in talle advertensies en musiekvideo’s, soos Jakkie Louw se 3 Pikkewyne, verskyn en was ook in 7de Laan en Binnelanders. Alhoewel daar sterk gerugte was dat die prikkelpop AB de Villiers se voete onder hom uitgeboul het, lag Hanna die praatjies af. “Ek en AB ken mekaar al vir drie jaar en hy is ’n wonderlike mens. Ons het deur gemeenskaplike vriende ontmoet, maar is altwee te besig met ons loopbane om enigsins verhoudings te oorweeg,” sê sy. Haar woordvoerder, Laurie Botha, is vol lof vir haar akteursvernuf en reken sy gaan dit nog ver in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf bring. “Ek werk daagliks met baie sterre, maar Hanna staan uit. “Sy is ’n gemaklike mens met ’n groot hart en haar werk is haar eerste prioriteit,” sê hy. |
Upcoming eventsUser login |